Vrye Weekblad Clarens-boekefees

Fri Jul 21, 17:00 - Sun Jul 23, 13:00

Protea Hotel by Marriott Clarens

ABOUT

Die naweek van 21 tot 23 Julie, in die hartjie van die winter, gebeur Vrye Weekblad se Clarens-boekefees in hierdie skilderagtige Oos-Vrystaatse dorpie. Sneeu is (dalk) nie uitgesluit nie! Populiere troon soos goue kerse aan die voet van berge. Daar is heelwat kunstige restaurantjies, want dis ’n toeristedorpie.

Die fees vind plaas in die Protea Hotel by Marriott Clarens – swierig en bestand teen wind, weer en beurtkrag. Bespreek vroeg verblyf en kom kuier saam.

Dit sal jou slegs R600 uit die sak uit jaag om die hele naweek saam met ons te geniet, of bespreek vir afsonderlike gesprekke teen R90 'n gesprek.


Kliek hier vir nog inligting, insluitende opsies vir verblyf: Clarens


Hier is die program:


VRYDAG 21 JULIE

17:00 Gee ons hoop, Johanna

Redaksiegesprek met Max du Preez, Anneliese Burgess, Piet Croucamp en prof. Francis Petersen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat.


SATERDAG 22 JULIE

10:00 Jeug en meug

Zelda Nel Bezuidenhout gesels met Fanie Viljoen, Ihette Senekal en Elrien Scheepers oor jeugfiksie.

11:00 Vrystaatse romansiers

Ihette Senekal gesels met Francois Smith en Sidney Gilroy oor hul romans.

12:00 Takseer hom op sy baadjie/Judge it by its cover

Diane de Beer praat met Hanli Deysel en Angela Tuck oor die belangrikheid van boekomslae.

13:00 Middagete

14:30 Harte, vuiste, en skulde

Deborah Steinmair gesels met Pieter P. Fourie en Lucinda Hooley oor hulle aangrypende fiksie met wortels in die werklikheid.

16:00 Plunder en Vetplantfeetjies

Antjie Krog lees haar gedigte voor soos net sy dit kan doen.

17:30 Van Kroonstad tot Clarens in 70 jaar

Max du Preez en Antjie Krog maak Kroonstad- en WVK-praatjies.


SONDAG 23 JULIE

10:00 Plaaslike bibliofiele

Louis Gaigher gesels met legendariese inwoners Johrné van Huyssteen, Debra Stewart, prof. Rodney Moffet, Brenda Shepherd, Peter Badcock en Natalie Dell oor Clarens en boeke.

11:00 Boekevat

Kirby van der Merwe, Bibi Slippers, Jolyn Phillips en Dianne du Toit Albertze lees hulle gedigte voor.



Clarens is ’n dorpie aan die voetheuwels van die Malutiberge met die bynaam “Juweel van die Oos-Vrystaat”. Dit is in 1912 gestig en genoem na die dorp Clarens in Switserland waar die verbanne Paul Kruger sy laaste dae deurgebring het. Dit is 336 km van Johannesburg, 284 km van Bloemfontein en 389 km van Durban af.


Clarens is ’n kunstenaarstoevlug met baie bekende kunstenaars wat óf in die dorp woon óf besoek aflê, met vele kunsgalerye rondom die dorpsplein en die dorp. Die rustige kleindorpse atmosfeer saam met skilderagtige uitsigte en ’n milde klimaat maak Clarens ’n gewilde wegbreekplek vir stadsbewoners van alle provinsies. Clarens is bekend vir sy skouspelagtige sandsteenberge en wonderlike klimaat; dit is een van die mooiste plekke in Suid-Afrika en is onlangs bekroon as die beste forelhengelwaters in Suid-Afrika. Die Golden Gate-Hoogland- nasionale park is 17 km van Clarens af.


Naby Clarens is die uitlaatklep van die Lesotho-Hoogland-waterprojek wat vars water uit Lesotho bring. Clarens is deel van die skilderagtige Hooglandroete en is omring deur berge. Die Rooiberge is rondom die dorp en verder na die suidooste troon die Malutiberge in skakerings van pers en blou. Rondom is die sandsteenkranse met hulle veelkleurige horisontale lae. Baie huise in Clarens is met sandsteen gebou.


Daar is verskeie verblyfmoontlikhede soos bed-en-ontbyt, selfsorg, lodges, geriewe vir rugsakreisigers en plaasgastehuise in die omliggende gebied.

Dit is hier waar Vrye Weekblad se eerste Clarens-boekefees plaasvind.


Sien jou daar!

DIRECTIONS

Vrye Weekblad Clarens-boekefees
Protea Hotel by Marriott Clarens
Corner Of Main &, Van Der Merwe St, Clarens, 9707
Get Directions