Family friendly

SNOTKOP Live @ Zafara Game Lodge

Sat Nov 6, 14:00 - Sat Nov 6, 22:00

Zafara Game Lodge

ABOUT

Kom geniet 'n Saterdag op die plaas saam met SNOTKOP!

Daar gaan lekker kos verkoop word sowel as ietsie koud vir die keel.


Hekke maak om 14:00 oop.


Speel plek vir die kinders om hul besig te hou.


Hier is bietjie meer oor wie SNOTKOP is...





SA se gewilde, multi-platinum verkoper en SAMA WENNER doen dit weer!!!

Snotkop se 7de treffer-album HKGK, bereik GOUE STATUS in minder as 3 maande van vrystelling!

Snotkop, is onbetwyfeld een van die land se populêrste kunstenaars wat duisende mense se harte gesteel het met sy talent, aansteeklike musiek, good looks, passie en onkeerbare energie!

Snotkop vier hierdie jaar 10 jaar in die Afrikaanse musiek bedryf en sy 7de album wat Julie 2016 vrygestel was het behoorlik die dansvloere aan die brand!

Snotkop is bekend vir sy besonderse kletsrymvaardighede, energiebelaaide ritmes en tong-in-die-kies, skerpsinnige lirieke. Sy nuutste album, “HKGK”, verpersoonlik dié musikale karaktertrekke in ‘n album met hope skop!

‘n Mens hoef bloot na die CD-omslag en – titel te kyk om te weet dat hierdie album gebou is vir ‘n GROOT kuier waar om rustig en soet te wees héél laaste op die prioriteitelys is.





Die techno-popgeur van die album word versterk deur polsende, aansteeklike baslyne wat tonne oemf tot elkeen van die 13 snitte toevoeg. Met hoë-oktaan snitte soos “Cool soos Koos Kombuis”, “Hoe lykit”, “Woestersous”, “Raak vir my rustig”, “Meisie Ferguson”, “Kom ek soen dit beter” en “Dans en stop” is een ding baie seker: as hierdie album jou nie aan’t dans en partytjie kry nie is jy eenvoudig besig om te oud te word vir ‘n behoorlike kuier!

“Nagskof opskop”, Snotkop se duet met Liezel Pieters, is ‘n treffende stuk musiek wat sal sorg dat losdans- en sokkie-dansvloere stampvol is, terwyl “Dirkelicious se remix van alle freaking remixes” ‘n paar groot Snotkop-gunstelinge – “Dikkelicious”, “Aktiwiteite wat belangrik is” en “Hiekies in Hartenbos” – meng in een gaaiskop, ses-minuutlange treffer wat die album op ‘n hoë noot afsluit.

Enige kuier van legendariese proporsies sal van nou af met die lirieke van die titelsnit op hierdie album begin: “H-K-G-K, hier kom dit nou, bra!”

Sy 2015 treffer album ‘’Soos ‘n BOSS’’ het binne 5 weeke GOUE status behaal en is ‘n aksiebelaaide-voestamp-heupeswaai-samestelling – getooi in wit, goud en bling - wat sê dat daar net een manier is om te leef, te doen en te dans: SOOS’nBOSS!





Met uitverkoopte konserte, platinum verkope en vêr oor die 200 000 ‘’followers’’ op Facebook, Twitter en Instagram het Snotkop sy merk duidelik in die land se musiek bedryf gekerf.

Snotkop spog met nie minder as 13 musiek toekennings, oa MK, Huisgenoot Tempo, Vonk en Bokkie toekennings. In 2013 het sy baanbreker album ‘Ek laaik van jol’ wat Platinum status bereik het, weggestap met die gesogte SAMA toekenning vir beste Sokkie dans album.

Met groot treffers soos Agter op my fiets, Ek val vir jou (met Monique), Parapapa, Oppas, Ek laaik van jol, Dikkelicious en die hartroerende Song vir my dad word daar altyd luidkeels saamgesing en gedans by sy energieke optredes.

Al Francois se albums is tot dusvêr ‘n unieke lewensreis tot waar Francois homself vandag bevind… Groot geword in Johannesburg, Randburg en van kleins af het hy al gedroom van ‘n lewe op die verhoog met ‘n mikrofoon in die hand.

Francois het drama studeer aan die Tswane Universiteit na ‘n interresante paar jaar op skool as die swartskaap en rebel met die droom om eendag ‘n groot ster te word... Maar met harde werk, passie en deursettingsvermoë het hy dit reggekry om vandag een van SA se grootste name in die musiekbedryf te word.





Van ‘n baie jong ouderdom het hy begin werk aan sy loopbaan en het liedjies geskryf en opnames gemaak van sy musiek wat hy gestuur het aan groot plaate maatskappye…

Sy eerste groot breek het egter gekom in 2000 toe hy sy eerste plate kontrak los geslaan het as SA se eerste wit kwaito ster onder die verhoog naam ‘Lekgoa’. Dit was onmiddelik ‘n weghol sukses en die volgende vyf jaar het hy spandeer tussen duisende gillende aanhangers vanaf Soweto tot in Botswana. Lekgoa het ook baie suksesvolle toere voltooi in Frankryk en London met van die land se grootste name soos Soul Brothers, Johnny Clegg en Mahotella Queens. Internationale belangstelling het vining gevolg en CNN het onmiddelik belang gestel in die unieke Sotho sprekende, kunstenaar met die onkeerbaare energie op die verhoog en het ‘n dokumentêr geskiet oor sy interresante lewe, sukses, styl en loopbaan wat reg oor die wêreld uitgesaai was.

Francois, wat ‘n diploma voltooi het in drama aan Pretoria Tech, was ook al te siene as akteur op programme soos Sewende laan, Generations, Villa Rosa en Backstage om ‘n paar te noem. Hy was ook die aanbieder van sy eie populêre program Petrolkop op die musiek kanaal MK. Hy het ook die onvergeetlike rol vertolk van ‘Riekie’ op die baie populêre RSG en Kyknet radio drama ‘Stralejakkers’.





In 2006 het Francois besluit dat dit tyd is om in Afrikaans sy moedertaal musiek te maak onder die verhoog naam ’Snotkop’, en dit ook, was gou ‘n weghol sukses. As tiener was Francois baie doelgerig en vasbeslote om eendag ‘n proffesionele entertainer te word en dit het hom soms as hardkoppig en as ‘n rebel laat voorkom. Sy Pa, Jan, het hom ‘Snotkop’ gedoop, ‘n troetelnaam van jongs af wat Francois baie na aan die hart lê. Vandag is Snotkop dié naam op elke Suid Afrikaner se lippe.

“Die liedjies op my albums verteenwoordig presies wie ek is, ek sing en rymklets oor verhoudings, geluk, hartseer, teleurstellings, liefde, my reis deur die lewe, paarties, my drome, menslike dinge wat ek as Afrikaner ondervind het en wat my gemaak het wie ek is vandag”.

Die lirieke is eerlik en oud en jonk sal onmiddelik verstaan waaroor Snotkop praat!

“Ons almal is menslik, ervaar geluk en hartseer, ek is mal daaroor om te skryf oor gewone dinge wat die gewone ou ondervind, ons almal jaag nonsens aan, paartie en werk hard, ek lag oor sommige situasies waarin ons onself soms bevind, ek is wie ek is, leer deur my foute, en hê fun in die proses, ons vergeet soms om net eenvoudig te vier wie ons is”.





Francois maak sy merk deur om sy naam duidelik teen die muur te skryf en mense te inspireer om dieselfde te doen.

“Wees trots op wie jy is, jy is instaat tot GROOT DINGE, daar is geen ander persoon in die wêreld met jou unieke talent en energie nie, gebruik dit, maak jou merk, vergeet van wat ander mense van jou dink of sê, sit jou vuis in die lug, staan op vir jouself en gaan haal wat joune is…”

Reg oor die land is dit al bekend dat Snotkop beheer neem van ‘n verhoog, die gehoor vinnig op hulle voete kry en word beskou as een van Suid Afrika se beste live kunstenaars!

Francois Henning aka Snotkop is ‘n rare talent wat terug staan vir niks, en met sy unieke persoonlikheid, aansteeklike musiek en groot hart is dit geen wonder dat elke sokkie, braai, fees en byeenkoms dreun met sy Musiek, passie en positiewe energie nie!

DIRECTIONS

SNOTKOP Live @ Zafara Game Lodge
Zafara Game Lodge
R30, South Africa
Get Directions